https://www.telegraphindia.com/edugraph/career/6-interesting-careers-to-take-up-after-pursuing-a-degree-in-geography-photogallery/cid/1897131?slide=1

Inleiding:

Geografie is sekerlik die wetenskaprigting wat die wydste veld dek. Ingesluit onder Geografie is die fisieke aspekte van die mens se interaksie met sy omgewing wat bestudeer word in natuurwetenskappe soos geologie, biologie en weerkunde. Geografie sluit egter ook kulturele aspekte in wat handel oor die mens se onderlinge interaksie met ander mense, wat bestudeer word in sosiale wetenskappe soos stads- en streeksbeplanning, ekonomie en politiek. In al hierdie wetenskaprigtings en ook ander wat in Geografie bestudeer word, is kaartwerk van deurslaggewende belang om ruimtelike dimensies aan te toon.

Kartografie:

Kartografie en kaartwerk behandel die mees basiese aspekte van hoe posisies op kaarte bepaal en geplot word. Die samestelling van kaarte en beskikbare afstandswaarnemingsmedia wat daarvoor aangewend kan word, word behandel. Vaardighede in die gebruik van moderne tegnologiese wonders soos Google Earth en satellietbeelde word aangeleer, asook die basiese gebruik van Globale Posisioneringstelsels (GPS) en Geografiese Inligtingstelsels (GIS) wat daarmee gepaard gaan.

Weerkunde:

Daar is ook ʼn afdeling oor weerkunde.  Verskillende faktore wat ʼn rol speel in die vorming van globale weerpatrone, asook dié plaaslik vir Suid-Afrika, word behandel. Ook in weerkunde is kaarte belangrik en die sogenaamde “sinoptiese” kaarte wat tipies gebruik word vir die uitbeelding van weerpatrone, word behandel.

Stadsbeplanning:

Dit skyn in die mens se natuurlike aard te wees om saam te trek in stede. Ten spyte van negatiewe faktore wat daarmee gepaard gaan soos toenemende misdaad, armoede en besoedeling, verkies die meeste mense om in noue verbintenis saam met ander te leef, eerder as om afgesonderd in landelike omgewings te bly.  Dit word duidelik aangetoon in globale verstedelikingsyfers. Verder word die mens se versmagting na interaksie met ander mense ook aangetoon in die postmoderne globalisering met toenemend-ontwikkelende internasionale kommunikasie- en vervoernetwerke, wat die wêreld sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog kenmerk. Die geskiedenis van verstedeliking en die geskiedkundige uitbreiding van stede oor die wêreld heen, word geanaliseer in stedelike geografie.

Demografie (bevolkingstudie):

In geografie word ook die mens se plek op aarde geanaliseer, sy interaksie met die natuur, en sy verantwoordelikheid as heerser oor die skepping, soos aangestel deur die Skepper daarvan. Die planeet aarde is ʼn relatiewe geslote sisteem met min invloede vanuit die buitenste ruimte. Maar op die planeet self is ʼn oneindige aantal sisteme op alle skale voortdurend werksaam. Hieronder tel natuurlike ekosisteme sowel as mensgemaakte sisteme soos stede en boerderye. Die mens het op al hierdie sisteme ʼn invloed wat verantwoordelik bestuur moet word.

Artikel deur dr Hendrik Minnaar geskryf en op die blog van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA-blog) geplaas op 2023-02-08. Skrywers se menings op die APA-blog is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van die Afrikaanse Protestantse Akademie nie.

 

Deel die bladsy: