Personeel en studente van die APA,

die Raad op Hoër Onderwys het in die lig van die COVID-19 krisis, op 17 April 2020 ‘n brief geskryf waarin alle universiteite versoek word om voort te gaan met aanlyn klasse tot verdere kennisgewing sodat die akademiese jaar nie vermors word nie. Dit bevestig net die besluit wat die Senaat reeds op 8 April 2020 geneem het om vanaf 20 April 2020 aanlyn voort te gaan met lesings ongeag die situasie met betrekking tot die inperking of “lockdown” in die komende weke.

Dit is tans nog onseker wanneer personeel sal kan terugkeer kantoor toe, maar ons is in die gelukkige posisie dat ons lesings met min ontwrigting kan voortgaan via ons aanlyn platform, my.APA.

Hoewel die onderwysdepartement in onderhandeling is met selfoonmaatskappye om aan privaat universiteite, soos die APA, ook die moontlikheid  te bied om sogenaamde “zero rated data” na die studenteportale te gee, het ons reeds aanduidings dat die APA nie daarvoor sou kwalifiseer nie omdat ons my.APA webblad in die buiteland gehuisves word. Dit beteken in praktyk dat studente en personeel hul eie data moet voorsien om toegang tot die my.APA webblad te verkry.

Meeste van die lesings word in klankformaat op die webblad gelaai om so min as moontlik data te vereis. Die positiewe van hierdie situasie is dat ons nou die geleentheid het om video lesings te beproef: iets wat ons al lank oorweeg. Ons besef dat video lesings meer data vereis, maar wys studente daarop dat u die lesings wat in video-formaat op die my.APA webblad gelaai word se kwaliteit kan laer stel wat heelwat minder data gebruik indien u nie beskik oor onbeperkte internettoegang nie.

Ons is ook bewus daarvan dat sommige studente sukkel met internettoegang op klein dorpies of op plase en dat die koste van data baie hoog is. In die lig daarvan wil ons studente wat baie swak of baie beperkte internettoegang het, vra om hulle dosente in kennis te stel daarvan sodat daar vir hulle ook voorsiening gemaak kan word om bv. die video grepe in klankformaat op die webblad te laai.

Van die akademiese bestuur en Senaat se kant, wil ons ook kennis neem van sulke gevalle om te kyk in watter mate ons kan help. Ons versoek u dus om die dekane van die betrokke programme in kennis te stel indien u internettoegang in hierdie inperkingstyd ‘n probleem is.

Deel die bladsy: